The Sweet-Smelling Jasmine is meer as net die naam van die roman of ‘n lendelam bus – dit simboliseer ‘n atmosfeer waarin jy met al jou sintuie kan verdrink. As dit nie reeds op jou leeslys is nie, maak ‘n plan.
Die roman is ‘n vlegsel van verhaallyne, dié van die middeljarige aspirant-skrywer, Isabel, en dié van ‘n deel van haar jeug wat sy op ‘n Natalse dorpie met die naam Two Rivers deurgebring het. Die twee wissel mekaar af en tussenin is daar ook uittreksels van ‘n verslag oor ‘n opstand wat op die dorpie plaasgevind het…
In dié verhaal word die leser na ‘n heel ander wêreld verplaas – ‘n vergeelde foto-atmosfeer van 1952.
Hobbs se skryfstyl vloei so gemaklik soos die Two Rivers waaroor sy skryf. ‘n Mens kan nie help om deur die stroom meergesleur te word nie…
Hoewel dit ‘n mens onwillekeurig aan Harper Lee se To Kill a Mockingbird laat dink, is The Sweet-Smelling Jasmine heerlik Suid-Afrikaans. Apartheid is ‘n belangrike tema, maar sonder die gewetensbagasie wat so dikwels daarmee gepaard gaan. Lees dit sonder voorbehoud of versuim.